Liefde: Die halwe waarheid

Sedert die Covid-10 pandemie sy verskyn gemaak het, word alle terme gebonde aan die woord “normaal”, onder inspeksie geplaas. Slegs halwe gelaatstrekke word vertoon, en dit is normaal. Deur Ané Janse van Rensburg

Die milieu waarin die mensdom hom bevind, is versmored, en dis normaal. Mense maak konneksies op aanlyn platforms, sonder om ‘n werklike aangesig-tot-aangesig-gesprek met mekaar te voer-en ja- nie net is dit aanvaarbaar nie, dit word aangemoedig…

Potte en visse

Die Covid-19 pandemie het die baan geweg vir halfversteekte waarhede in gesprekke op kletskamers, konneksies via sosiale media profiele en virtuele afsprake, om bekende klinkslae soos “elke pot kry sy deksel” en “daar’s baie visse in die see” in werkende funksies te omskep. Met huidige omstandighede in gedagte, word baie aspekte van hierdie voorafbenoemde klinkslae bevraagteken. Wat as jou deksel in ‘n ander laai lê? En wat van die varswaterbronvisse? Is hulle óók veeltallig? Een só ‘n pot/vis wie se pasmaat in ‘n ander laai/poel beland het, is Corlien Venter, ‘n student aan die Universiteit van Pretoria. Díe student skryf op Netwerk24 oor die impak van Covid en tegnologiese hulpmiddels op haar langafstandverhouding: “Ons is inniglik dankbaar vir video call en ek sien hom sowat een keer elke maand… Ek sou byvoeg dat vertroue oor ‘n afstand, nie kan bestaan nie”.

Die vraag onstaan dus: Hoe word hierdie tipe vertroue gekweek in die modern tye? Tussen jou en my, lê daar ‘n skerm…

Almal soek ‘n vrou

Sommige meen dat liefde die nuwe RSG is; sonder grense. Dit kan enige inperking, geslote grens of isolasie-situasie oorkom. Ander stel onomwonde dat liefde ‘n pandemie op syself geword het, waar “teenliggampies” nodig is om ‘n immuunrespons te aktiveer om die “virus”, oftewel, ‘n gebroke hart, in sy spore te stop. Marciel Hopkins, aanbieder van die immergewilde realiteitsprogram, Boer soek ‘n Vrou, is een van díe wat graag saam met die Beatles uit volle bors sing:”All you need is love!”. Sy glo dat “indien jy ernstig is oor die liefde, jy enige uitdagings sal oorkom om iemand werklik te leer ken”. Dit beteken soms dat ‘n mens vol bravade jou masker moet afhaal, jouself totaal ontbloot vir iemand anders met die kans op liefde en uiteindelike geluk.

Die harde waarheid word binne hierdie stelling ontbloot; dat ‘n gebroke hart en die lesse wat daarmee saamgaan, soms nodig is en deelvorm van elke individu se lewenswandeling. Realiteitsprogramme soos die einste Boer soek ‘n vrou, en die nuwe Op my Eish, maak jaarliks hul verskyning om aan kykers, manlike en vrolik, jonk en oud, die vrymoedigheid te gee om, ten spyte van die wêreld se omstandighede, te vertrou op daardie magiese element waaroor al die liedjies en gedigte gaan.

Ledigheid en gerieflikheid

Daar is ‘n sê-ding wat lui: Ledigeheid is die kussing waar die duiwel wag. So kan daar ook geargumenteer word, dat gerief en gemak dalk dié generasie se Achilles heel is. Van toeps en sosiale media, kan daar nie geskram word nie. Dit bied innoverende maniere om visse en deksels buite jou speelterrein te ontmoet. Die langdurigheid van die konneksies wat gevorm word, is egter onomwonde afhanklik van die moeite en wilskrag van elke individu. Behalwe vir allerdaagse wenke soos om net jouself te wees, bied Ali Segel in die Cosmpolitan ander wenke vir aanlyn liefde: Fokus op kwaliteit, eerder as kwantiteit, wees dit wat jy soek, wees eerlik en opreg; maak die oorskakeling van aanlyn tot in persoon so gou as moontlik, ensomeer.

Die hele waarheid is: soms is maskers nodig om ons te beskerm. Só ook is teenliggampies nodig om gevaartekens te identifiseer; dit maak ons slimmer en help ons op die regte liefdespad. Al vervang GIF’s, “stickers” en foto’s soms ons woorde, kan niks die intimiteit van ‘n koffie afspraak wen nie. Elke boer, vis, pot en lui-Jan, verdien ‘n hele waarheid…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *